Luister

Om die seun en bokant hom dreun die groot waai­ers wat koel lug tussen die hang­ende stukke vleis in­dryf. Die seun verkyk hom so aan alles dat hy strui­kel en val. Dadelik weet hy, hy het met die val sy hor­lo­sie verloor. Angstig begin hy op die vloer rond­­soek. Op die vloer lê hope houtskaafsels, waar­op die vleis, bloed drup. Hy voel al hierdie skaaf­­sels sorgvuldig deur. Hy word bewus van die dreun­ende waaiers. Waar hy op sy knieë op die vloer na sy horlosie soek, voel hy die koue. Sy oom raak oor hom be­kom­merd en kom soek hom. Hy kry op sy knieë hom huilend op die vloer, soe­ken­de na die horlosie. Die oom help soek, maar hulle kry nie die horlosie nie.

Die lig is ook nie baie goed nie, omdat die groot stukke vleis skaduwees gooi. Die verstandige oom gaan ska­kel by die deur die waaiers af. Dit word doodstil. “Nou luister ons,” sê die oom. Hulle luister. In die stilte hoor hul­le na ’n kort rukkie albei die tik-tik van die hor­losie. Hulle volg die geluid en aan die voet van ’n metaalanker kry hulle die horlosie.
 

Die wêreld se lawaai om ons, in ons ore en in ons gedagtes, maak dit vir ons moeilik, en eintlik onmoontlik, om God se stem te hoor. Die Heilige Gees se stem kom met sagtheid na ons hart toe. Ons moet ons geestelike oor naby aan God se woord hou, om sy stem te hoor. As ons bid moet dit in ons stil word. Die tydjie wat iemand neem om met die Here in die binnekamer om te gaan, word met reg, stiltetyd, genoem.

Ons moet ’n hele paar afskakelings doen om die nodige stilte vir omgang met God te bereik. Waar die dissipels alleen met Jesus was, weg van die ru­moer van die skare af, kon hulle beste na Hom luister. Drie van Jesus se dissipels, se beste oomblikke saam met Hom, was op die berg, waar hulle sy heerlikheid ge­sien het.

“Jesus (het) vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op ‘n hoë berg in die een­saamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander” (Mark.9:1-3 Ou Vert.). Net jammer Petrus het dit ver­steur met sy gedurige, ywerige, on­deur­­dagte, haastige, wêreldse gepraat: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte maak…”
 

“Here, vandag soek ek stilte om u stem te hoor.”

Bron:  kragvirvandag.co.za 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.