Maak jy God deel van die hoogtepunt tye?

Tydens die episode waaraan John deelgeneem het, het hy die eerste deelnemer geword om tot en met die $500,000 merk te vorder sonder om enige van sy lewenslyne te gebruik. Hy het een vraag oorgehad om die $1 miljoen te wen. As hy die vraag verkeerd sou kry, sou hy meer as die helfte van die geld verloor. Die spanning in die gehoor was tasbaar toe die aanbieder die finale vraag stel en John aandui dat hy sy “Bel ’n vriend”-lewenslyn wil gebruik om sy pa te bel.

 

Toe sy pa aan die ander kant antwoord het John 30 sekondes gehad om aan sy pa die vraag te stel en te hoop vir ’n korrekte antwoord. Maar hier het die interessante wending gekom. In stede daarvan om sy pa vir ’n antwoord te vra, het hy gesê: “Pa, ek het nie regtig jou hulp nodig nie, maar ek wou jou eerste laat weet dat ek die miljoen dollar gaan wen.” Hierna het John die korrekte antwoord gegee om met $1 miljoen weg te stap.

 

God is ons Pa. En al weet Hy, anders as John se pa, reeds lank vooraf van elke deurbraak wat op pad is in ons lewens, begeer Hy steeds dat ons soos John die goeie nuus eerste met Hom sal deel. Luister weer na Dawid se woorde in Psalm 139:17-18: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”

 

God het goeie planne vir jou lewe. Kom ons kies saam om van vandag af ’n punt te maak om nie net met ons uitdagings na ons Pa te hardloop nie, maar ook die goeie, gelukkige tye eerste met Hom te deel! Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir elke deurbraak wat ek uit U hand ontvang. Lei my deur u Heilige Gees om daagliks iets meer van u karakter te verstaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: versndag.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.