Jesus weet dit, daarom nooi Hy ons almal uit: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matt 11:28). Hy weet dat fisiese werk jou tydelik moeg maak, maar dat ‘n afdag alleen, jou nie energiek genoeg kan maak om die volgende dag jou oorlaaide vrag op te tel nie. Die antwoord lê in rus by Hom. Kom ons raak prakties: hierdie vers lei ons om wanneer dinge vir ons te veel raak, intensioneel Sy teenwoordigheid op te soek. Hoe doen ons dit? Deur eenkant te kom en te doen wat jy nou doen: lees ’n Skrifgedeelte terwyl jy biddend en peinsend belê in jou kuier-tyd met Hom.
Jy mag dalk vra:”Waarom juis na Hom toe gaan?” Hy gee Self die antwoord: “….Ek is sagmoedig en nederig van hart” en “ My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:29). Jy sien, anders as die mens, is Hy nie ’n slawedrywer wat meer van jou sal vra as waarvoor Hy jou krag gee nie. Sy gesindheid teenoor jou is liefde, genade en aanvaarding.
Hy wil ook nie hê jy moet alles in jou lewe self hanteer nie! Nee, Hy nooi jou uit om “van hom te leer” want Sy juk “is sag en sy las is lig”. Trouens as jy saam met Hom gejuk is, “vind jy rus vir jou gemoed” maw vir jou menswees! En is dit nie maar waarna ons almal smag in hierdie volgepropte lewe van ons nie?
Dalk verstaan jy nie die volle betekenis van “gejuk wees” nie. ’n Juk bind twee goed aanmekaar (in dié geval Jesus en jy) sodat hulle saam ’n las kan dra. In ons Skrifgedeelte verwys die juk na jou onderwerping aan die gesag van Jesus se “juk.” Hierdie juk word nie net sondermeer op jou afgedwing nie, maar jy deel dit met Hom. Anders gestel: Hy neem die leiding en dra saam met jou aan jou laste! Verstommend dink jy nie?!
Solank ons leef, loop ons die risiko van oorlading en uitputting. Waarom dit dan alleen probeer hanteer as hulp aangebied word? Reageer liewer op Sy uitnodiging: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal vir julle rus gee. Leer van My,…en jy sal rus vind vir jou gemoed.”
Gebed: Here, ek sê “ja” vir U uitnodiging. Ek kan en wil nie meer my laste alleen dra nie. Leer my asseblief hoe ek my lewe moet bestuur sodat ek voortdurend U rus kan ervaar.
Amen.
Bron: versndag.co.za