Moet ek die evangelie afwaarts aanpas omdat dinge in Suid Afrika moeilik raak?


Is ekself dalk die enigste vreemdeling in Jerusalem, of was Jesus doodernstig toe Hy in Lukas 14 gesê het ek moet vooraf die prys bereken of ek kans sien om Hom op sy terme te volg? En dat dit soms moeilik gaan wees. Is ek bereid om Jesus onvoorwaardelik te volg in goeie tye en in slegte tye? Is ek bereid om my kruis te dra en soos ’n ter dood veroordeelde agter Hom aan te stap, al kos dit selfs my eie veiligheid, voorspoed of gerief? Glo ek nog die Bybel se norme is tydloos, of vat ek net dit wat my pas uit die Bybel en ignoreer die res? Werk die Bybel vir my soos ’n spyskaart — ek kies watter “geregte” ek voor kans sien en ignoreer die res — iets soos: “Ek sal kans sien vir 2 porsies kerkbesoek per maand en drie Bybelstudies, maar tans wil ek nie mense vertrou, my naaste liefhê, of vir die owerhede bid nie, want ek hou nie van hulle nie.”

Toe Jesus my geroep het om Hom te volg, het Hy my nie geroep om ’n lid van een of ander veilige bewonderaarsklub te wees nie. Hy het my as sy dissipel geroep. Toe het ek my lewe volledig afgeteken aan Christus. Hy is die Heer, ek die kneg. Genadiglik is Hy nooit hard of liefdeloos nie. Trouens, Christus is so genadig dat Hy my selfs sy vriend noem en sy hart met my deel. Maar ek weet ook Hy vra alles van my. Christus leer my om God se koninkryk met alles in my te soek, en die res sal vir my bygevoeg word — ook in 2015!

Bron:  ekerk.org