So begin ene Willie Kleinhans van Kommetjie om ‘n hoenderbraai funksie, net knap voor die basaar, aan te bied vir die Kommetjie lidmate. Die eerste braai is aan huis van Sakkie Sauerman (Willie se skoonseun) aangebied. Aanvanklik is slegs die vleis met slaai voorgesit, tamaties self gekweek deur Bontie Bonthuys, ander groente gekry van die Vlakte-boere (wat afgetree in — of vakansiehuise in Kommetjie gehad het). Na die funksie is plate gespeel (Plate? Jongeliede, google gerus “vinyl record” om die antwoord te kry… nee nee, nie daai Antwoord nie!) en bietjie gedans.. net bietjie!
Poeding is later tot die spyskaart toegevoeg in die vorm van ingelegde vrugte van Gant’s en vars pynappels uit die Oostelike Provinsie. Waar die bywoning aan die begin so 20 mense was, het dit stadigaan begin uitbrei en die huisparty het uit sy nate begin bars. Die funksie is verskuif na ‘n graswal langs die see in die karavaanpark. Daar is selfs eens op die gras langs die Kom gebraai en in styl gepiekniek op komberse.
Sulke buitelug byeenkomste is natuurlik uitgelewer aan die weerstoestand van die oomblik, daarom is daar later verskuif na die Dept Vissery se gebou langs die vuurtoring, en later na die saal van die Kommetjie Christian Church. By een geleentheid van ‘n Hoenderbraai by dié saal, het die suidoos so gewaai dat ‘n paar dakteëls afgewaai is van ‘n huis binne sig, die huis waarin Ds Kobus en Hanlie van Zyl, tans woon.
Die Kommetjie Gemeenskapsaal het uiteindelik ‘n veilige hawe geskep waar slegs die braaiers tegnies aan die wind en weer van die dag blootgestel was. Maar die hoenderbraaiers, soos hul roosters, is ysters, hulle loop tradisioneel om ‘n suidooster en dwarsdeur ‘n reënbui.
So het die 20 beginners gegroei na onlangse begrotings vir 300 bywoners. Alhoewel daar nie meer ‘n Kommetjie boeregeregte-tafel by die basaar (verskoning.. die Visfees) is nie, gaan die netto inkomste steeds vir die jaarlikse Visfees.
Ons sien u DV op 26 Februarie in Kommetjie by die 29ste/30ste Kommetjie Hoenderbraai.
(Dankie aan Danie en Anna Ackerman en Mickey van der Poll vir insette oor die geskiedenis.)