Nog ‘n nuwe begin wat ek baie goed kan onthou: “Tannie, kan ek ook een van daai pilletjies kry asseblief?” Pretoria se vroegoggend besoedeling en die Universiteit was vir my en my vriendin in sig. Ons tassies volgeprop met tuisgemaakte rokkies; denims was daai tyd nog op die sondelys! Die “nuwe begin” het ons bietjie oorweldig en moeder het towerpilletjies uit haar handsak opgediep.
Lees ek nou die dag iemand skryf van ‘n dooiemanswens!1 Dis nou die “nooit” wense. Ek sal nooit weer dit doen nie; nooit weer dat doen nie.
Wat wil ek nou eintlik sê?
- ‘n Mens se lewe word dikwels bepaal deur omstandighede buite jou beheer. Hoe jy daarop gaan reageer is egter in jou hande.
- Om soms hartseer, bang of kwaad te wees is deel van menswees. Aanvaar dit. Moenie dit vermy óf daarin vasgevang word nie. Leer nuwe maniere aan om jou gedagtes en gevoelens te hanteer sodat dit nie jou optrede negatief beïnvloed nie.
- Besluit wat jy gaan doen in die plek van “nooit”. In plaas van om te sê jy gaan nooit weer laat wees nie; staan vroeër op!
Kry duidelikheid oor jou lewenswaardes wanneer jy voornemens maak vir die nuwe jaar:2
- Waarvoor wil jy bekend staan en onthou word?
- Watter persoonlike eienskappe wil jy ontwikkel?
- Hoe wil jy in verhoudings optree?
- Wat is vir jou belangrik?
Die héél belangrikste:
‘n Mens kan sy voornemens hê,
maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.
In sy oë is alles wat ‘n mens doen, reg,
maar die Here ondersoek die gesindheid.
Laat wat jy doen aan die Here oor,
dan sal jou voornemens geluk.
(Spr 16:1-3)
1,2 Harris, R. (2009) ACT made simple. Oakland, CA: New Harbinger.