As die eerste deel van hierdie hoofstuk van Jesaja klink soos ‘n aanklaer wat sy saak stel, klink hierdie deel meer na ‘n prokureur wat ‘n skikking buite die hof beding. Hierdie is nie ‘n dagvaarding om in die hof te verskyn nie en dit is nie ‘n veroordeling nie. Dit is ‘n versoek aan Israel om te luister. God roep Israel bymekaar, nie om uit te vind wie is die skuldige nie, maar om hulle te vergewe. Hy vra nie om vergoeding nie en Hy deel nie straf uit vir hulle verlede nie, Hy vra slegs dat hulle Hom moet gehoorsaam.
Die Here wil graag met sy volk redeneer. Meer nog, God begeer om sy kinders se verhouding met Hom te herstel en om vir hulle die beste te gee. Maar Hy beveel Israel nie net om Hom te gehoorsaam nie, Hy laat die besluit aan hulle oor. En vandag laat Hy hierdie selfde besluit aan jou oor.
Gebed: Here, dankie vir u vergifnis en genade al verdien ek dit nie. Dankie dat deur u Woord U met my redeneer, my vergewe en my verhouding met God herstel. Amen
Bron: versndag.co.za