Skadu’s van godsdienstige irrelevansie



Hoe meer die kerk teen dinge is wat die publieke oog vang, hoe groter aandag kry dit. Dit het die media lankal agtergekom; kerkmense nog nie. Daarom dat rockgroepe en sangers wat pervers is of na die duiwel in hulle musiek verwys soveel gratis blootstelling kry onder miljoene mense wat andersins nie ’n oog sou knip hieroor nie. Net dalk gebeur dit weer in hierdie dae. Sekere flieks en politici se manewales trek orals aandag. Op facebook; in preke, op die radio vaar Christene verwoed uit hierteen.

Moet ons stilbly as dinge verkeerd loop? Nee, maar om bloot net teen die top tien sondes van die dag te wees en daarteen te praat en preek help nie. Deur al die eeue het die kerk dit gedoen, en niks gegroei waar dit gebeur het nie. Dit wys navorsing oor en oor aan ons. Trouens, soos wat ons hierbo gesien het, sodanige protes aksies van die kant van godsdienstiges pas juis die media.

Die roete? Wel, net dalk moet ons ophou om bloot net “op te staan” vir die Here deur teen alles en almal te wees en te doen wat 1 Petrus 2:15 sê. En dit is om goed te doen in God se Naam en so ’n einde te bring aan die dwaashede wat mense doen en kwytraak. So sê die Here. Nee, nie protesoptogte en boikot aksies nie, maar goeddoen en regdoen. Bekers koue water en omgee – dit maak die kerk magneties.

Ook moet ons mense se aandag verskuif. Om heeltyd net op sondes of probleme te fokus, soos een of ander ongewensde fliek of optrede, hou daardie einste dinge in die voorgrond. Ons word geroep om ons gedagtes op Christus te hou, soos wat Kolossense 3:2 ons leer. Ons word geroep om mense se aandag te verskuif; nie om dit nogmaals op die probleme van die dag te hou en net daarteen te wees as ons enigste alternatief nie.

Bron:   ekerk.org