Me. Claire Brown (22) het vertel sy en haar vyf kamermaats was Donderdagnag vas aan die slaap toe die booswig hul deur oopgedwing het.
Sy was die eerste een wat wakker geword het van die geluid van selfoonknoppies wat gedruk word. “Ek het die donker figuur daar sien staan en wou by hom weet waarmee hy besig is.
“Hy’t geantwoord hy is van sekuriteit en ek moet my mond hou en verder slaap.”
Volgens Brown het die ander vroue toe ook wakker geskrik en dít het die inbreker paniekerig gemaak. Hy het deur toe gestap, dit toegesluit en die sleutel in sy sak geprop.
Die vroue moes net só in hul beddens bly sit terwyl die man almal se selfone bymekaargemaak het. “Ons moes vir hom verduidelik hoe ons fone werk, dit vir hom aan- en afsit en ons PIN vir hom gee.
“Daarna het hy deur ons elkeen se bagasie gekrap en die beste klere, juweliersware, kameras, parfuum en selfoonlaaiers uitgesoek.”
Hy het gesê dat hy nie beplan om hulle seer te maak nie, maar dat hy dit beslis sou doen as hulle dit waag om ’n voet verkeerd te sit. “Op ’n stadium het hy daarop aangedring dat een van die vroue hom soen.”
Sy sê toe hy tevrede was met sy vonds, het hy hulle beveel om plat te lê in hul beddens en verder te slaap.
Bron: beeld.com