Die middag se sport moes afgestel word oor die weer en die kinders het weer die ouetehuis besoek, waar sommige gruwelik bederf is en selfs roomys ontvang het. Ons het ook koekies vir die minderbevoorregte inwoners van die ouetehuis geneem, waar een omie opgemerk her “dit kom reguit uit die hemel uit”. Suzie het die oudste oom ontmoet: ‘n op-en-wakker 107!
Die volwassebediening het voortgegaan om die kospakkies en linne uit ted eel deur middle van huisbesoek. Uit een van die huise het ‘n vrou gekom en gevra dat daar vir haar moeder gebid word. Sy het nie warm komberse of kospakkies gesoek nie, maar gebed. Die tannie Els is 66 jaar oud en ‘n parrapleeg. Haar dogter se geloof en liefde vir haar moeder het Corné-hulle diep geraak en hulle het ‘n wyle daar vertoef en klaar gerëel vir middele om dit vir haar net ‘n bietjie gemakliker te maak.
Winston, ‘n bedlêende seun vir wie ons verlede jaar ontmoet het, het ook 18 geword. Die dames het hom besoek met nuwe beddegoed en ‘n geskenk.
Die aand het ons talenkonsert gehou in die gemeenskapsaal.Die A2J –span bied dit aan en tree ook op as beoordeellaars. Hulle was briljant. Daar was so 12 items, maar die ene wat my bybly was die item waar 9 17-jarige seuns ‘n liedjie gesing het wat een van hulle gedurende die week geskryf het en opgedra het aan ‘n vriend wat verlede Sondag sy eie lewe geneem het. Dit was hartroerend. Meeste van die seuns woon ook dan bedags die lesse by wat deur A2J en tannie Petro van Pretoria aangebied word.
Woensdag
Woensdag was net so koud en ons het rerig gedink dit gaan sneeu. Die hele dag gaan maar oor die uitdeel van die klere, wat ‘n groot voorreg is en baie vreugde verskaf. Dit verg nogals organisasie om al die klere uit te pak en seker te maak dit word redelik regverdig verdeel. Oral in die dorp het mens die kinders sien stap met hul hopies klere onder die arm en groot glimlagte op die gesigte.
Woensdagaand was daar ‘n gesinsaand by die kerk waartydens ons eie Ds. Martin die woord gebring het en daarna was dit die volwassenes se beurt om klere te kry. Baie harte is baie bly gemaak en baie lyfies het verseker warmer gaan slap as gevolg van al die skenkings wat ons namens die Vishoekers kon uitdeel.
Van die A2J’ers
Wat vir my uitgestaan het is hoe opgewonde die kinders was om totale vreemdelinge te ontmoet en hoe gou hulle jou vas gryp as jy vir hulle ‘n bietjie liefde en vriendelikheid wys. Ook hoe almal by A2J soos ‘n groot familie is. – Danial
Die is ‘n wonderlike geleentheid om saam met A2J na Sutherland te gaan. Dit is baie koud en dit is so mooi om te sien dat die kinders van binne af warm word as jy hulle van die Here vertel. – Elmarie
Ek het met groot verwagting die Vrydagoggend opgestaan en glad nie geweet wat om te verwag nie. Opgewonde, maar baie gespanne. Wat vir my rerig lekker was, was die aand van praise and worship. Ek het in my lewe nog nooit die Heilige Gees so ervaar en so aan dinge gedink soos ek nou doen nie. Ek is so bevoorreg en baie bly ek het gekom. Die kerke hier is entoesiasties oor alles. Hulle loof en prys die Here met hulle hele hart en siel. Hier kan ‘n mens die Here voorsien en hulle gee om oor mekaar en hulle naastes! Die kinders hier is net so oulik. Hulle soek net liefde. As ‘n mens hulle hand vas hou is dit asof hulle nie wil los nie. Die lekkerste – jy kan hulle liefde gee. – Stephanie
Almal van die kleintjies wat vanoggend in my groepie sop gekry het, is daar weg met ‘n, “Dankie, tannie”. – Riana
Hope klere vir oud en jonk. Daar is voorsien deur die gemeenskap van Vishoek, Constantia en Tokai tot in Valhalla. Drukkies van dankbaarheid is uitgedeel en A2J’ers het hulle goed van hul taak gekwyt om die volwassenes soos koninklikes te laat voel. Ons kon weereens jonk en oud help met ‘n paar nuwe items in hul klerekas en is opreg dankbaar vir elkeen se bydrae hieraan. – Annette
Allerlei
Die instandhoudingspan het ‘n ou wat pik slaan in skinny jeans laat cool lyk…!
Oom Moses vra die kleintjies (3-6 jaar) met Jona se verhaal, “Wie het vir God kwaad gemaak?”. Gou is die handjie op “Ekke!”
Mickey, ons fotograaf, het self ook ‘n verrassingsdrukkie gekry van een van die kleintjies wat kom dankie sê vir die klere.
Voorbidding
Bid saam met ons –
- Dat ons sal luister en doen wat God se wil is in ons verhoudinge: leiers en jeug, jeug en groepies, ons en Christus.
- Vir die gesondheid van die span. Die koue weer en stof in die lug sorg vir ‘n verkoues of seer keel wat pla. Ook vir krag en ‘n goeie gesindheid waar die moegheid beslis begin deurslaan.
- Vir koue en warm weer op die regte tyd. Ons kon die hele dag deur werk sonder probleme met reën, maar die koue kan moeilik wees.
- Dankie vir hoe die Heilige Gees A2J toerus om die werk te doen wat hulle doen met die kinders en volwassenes. Om eerlik te wees is ons opleiding ‘n druppel in die emmer; dit is alleen deur Sy leiding.
- Vir moed, hoop en liefde vir die werk en geleenthede wat die laaste paar dae van die uitreik voorlê.
Groete,
Sutherland span,
Johann en Heidi
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.