“Ons oogmerk is om die evangelie, die goeie nuus oor die lewe en sterwe van Christus, op die verhoog te vergestalt.
“Dis nie ’n Passiespel nie,” sê hy, “en ook nie ’n Afrikaanse weergawe van iets soos Jesus Christ Superstar nie. Jesus was nie ’n superster nie.”
Wat Scholtz met sy pasgestigte Kanselteater wil doen, is om “die evangeliese waarheid op die verhoog te verkondig”.
Vir dié doel sal “sekulêre produksies met ’n Christelike boodskap” mettertyd deel van Kanselteater se beplanning wees.
“Die kerk het uit voeling geraak met die gemeenskap,” sê dié akteur wat veral bekend is om sy rolle as Osie Oosthuizen in Binneland en die rugbyskeidsregter Schalk Brand in Getroud met rugby.
In Jesus, die musiekspel word Bybelse gegewe gebruik, verweef met oorspronklike musiek waarvoor Janine Neethling verantwoordelik is.
Benewens Neethling se nuutskeppings word bekende geestelike treffers ook ingesluit, luidens ’n mediaverklaring.
Die rolverdeling sluit in Heinz Winckler (Jesus), Robbie Wessels (Johannes die Doper), Marisa Drummond (Maria Magdalena), Melissa Bam (Maria, Jesus se ma), Leon Ferreira (Judas), Matt Stern (Petrus), Cobus Venter (Johannes), Marno van der Merwe (Andreas) en Altus Theart (Kajafas).
Die vervaardiger is Soné Combrink. Sy is die laaste drie jaar musiekspelvervaardiger en het produksies soos Ons vir jou, Tree aan en Lied van my hart op haar kerfstok.
Jesus, die musiekspel begin op 28 April. Die speelvak duur tot 18 Mei.
Kaartjies kos van R195 tot R295 en kan bespreek word by Computicket
Bron: beeld.com