Jesus lyk anders as daardie vroom beelde wat die Christelike kuns oor Hom aan ons oorgelewer het. Hy het nie met ‘n goue stralekrans om sy kop tussen mense rondgeloop nie. Ook was Hy nie omring deur engele, heiliges en adellikes nie. Sy kopkussings was dikwels die klippe van Galilea. Sy vriende was tollenaars, sondaars en uitgeworpenes. Sy kansels was die oop veld. Sy preke was gelykenisse, vrae en wonders. Sy werkplek was die alledaagse lewe — daar waar God se gunsteling verlore eiendom gebly, gewerk en gespeel het.
Jesus het nie net gekom vir die siekes en eensames, die stukkendes en die hoopverlorenes nie. Hy het gekom om vir elkeen wat in die donker leef ‘n nuwe pad terug na sy Vader se hart toe oop te maak. Daarom dat die Kind van die Krip ook die Here van die kruis en die oop graf geword het. Daarom dat ander klere vir Hom in die mode is!
Bron: ekerk