Mnr. Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het gesê Zuma se opmerkings is verkeerd geïnterpreteer en aangehaal.
Maharaj het gesê die president het die toespraak in “diep Zoeloe” gelewer. “Wat hy bedoel het, was dat die koms van Westerse ideale en maniere (na Afrika) die Afrika-manier laat agteruitgaan het. Die media het Westerse kultuur vertaal as Christenskap.”
Dit is nie die eerste keer dat Zuma omstrede verklarings oor godsdiens maak nie. In Junie moes hy die SA Raad van Kerke om verskoning vra wat gemeen het hy het Jesus se naam misbruik tydens die ANC se munisipale verkiesingsveldtog. Zuma het ook tydens ’n verkiesingsveldtog in Junie 2009 gesê die ANC sal regeer “totdat Jesus terugkeer”.
Maharaj het gister aan Beeld gesê Zuma het met die jongste opmerkings bloot gevra dat Suid-Afrikaners nie die ou Afrika-gebruike en maniere van dinge doen, moet versaak terwyl hulle Westerse invloede en kulture en godsdienste soos Christenskap omarm nie.
Hy het gesê die president se woorde was nie ’n verwerping van Christenskap of godsdiens nie.
“Westerse invloede (in Afrika) het gelei tot die einde van die uitgebreide familiebande as ’n instelling (onder Afrika-kulture) en het daartoe gelei dat al hoe meer ouetehuise en weeshuise benodig word,” het Maharaj gesê. Hy het gesê die president het gesê selfs armoede was anders onder die vorige Afrika-kultuur met bure wat mekaar uitgehelp het.
Zuma se opmerkings is gister wyd veroordeel.
AfriForum het Zuma se kommentaar as “uiters onsensitief” beskryf en ’n beroep op die president gedoen om Christene om verskoning te vra.
Die Nasionale Raad van Kerke het volgens Sapa ook sy skok uitgespreek en gesê Christene is juis geroepe om te sorg vir die mees kwesbare mense in die samelewing.
Volgens Sapa het eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, Zuma se jongste verklaring as “skynheilig” beskryf.
Bron: Rapport.co.za