Zuma reken hy is God se gesant in SA

In die laaste paar weke het ’n vurige openbare debat gewoed oor die feit dat Zuma regter Mogoeng Mogoeng gesalf het tot die land se volgende hoofregter. In die proses is ernstige bedenkinge uitgespreek oor of Mogoeng in sy nuwe pos die land se grondwetlike beginsels gestand sal kan doen, gegewe sy betrokkenheid by die Winners Chapel International en sy versuim om ’n belangrike hofuitspraak waar sy geloofsoortuigings ’n rol kon speel, te verduidelik.

Te midde van dié kritiek op Zuma se keuse het Mogoeng gedurende sy onderhoud met die Regterlike Dienskommissie ook verklaar dat dit God se wil is dat hy as hoofregter aangestel word. Hy het ’n teken van Bo gekry, het Mogoeng beweer.

Hier is nou ’n nuwe uitbreiding van Zuma se teokrasie: Soos die president se leerstellinge ons vertel, weet ons nou al die ANC (en vermoedelik ook die president self) is die uitdrukking van God se wil op aarde. Die president, en dus God, het Mogoeng gesalf. In dié verwronge logika is Mogoeng se aanstelling “God se wil”.

Wie is ons sterflinge dan om die keuse in twyfel te trek?

Zuma se kennelike verwarring oor of hy in ’n preekstoel of ’n presidentstoel sit, vind ook elders neerslag.

In Julie 2009 is die Na­tion­al Interfaith Leadership Council (NILC) gestig as ’n organisasie wat uit meer as 20 senior leiers van verskeie geloofsformasies bestaan. Betrokkenes het hul gewig agter Zuma ingegooi; en toe dit aan die lig kom dat Zuma die vader van ’n buite-egtelike kind is, was die NILC uitasem op die toneel om sy saligspreking oor Zuma te gee. In ’n verklaring het dié organisasie gevra dat Suid-Afrikaners “Zuma vergewe en aanbeweeg”.

Bron: http://www.beeld.com/Opinie/HoofArtikels/Uitspraak-vra-selfondersoek-van-ons-almal-20110913

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.