As ‘n kind net kon praat

Mal 2:16
Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.
 

Matt 19:13-15
Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.

As ‘n kind net kon praat. Natuurlik kan ‘n kind praat – van kleins af al. Maar wat help dit ‘n kind kan praat, maar niemand luister nie? Is ‘n kind (of liewer jóú kind) se stem en mening iets werd? Luister ons as ons kinders praat? Ons gee hulle mos “kwaliteit-tyd”, of hoe? Sulke 5 minute sarsies net voor hulle bed toe gaan.

As ‘n kind maar net kon praat EN gehoor word, sou hierdie wêreld ‘n baie beter plek gewees het! Kom ek verduidelik ….
 

Matt 2:16
Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het.
 

Wreed, of hoe? Wat sou hierdie kindertjies gesê het as hulle kon? “Oom, asseblief, ek is onskuldig, moet my asseblief nie doodmaak nie” – vreeslik, of hoe? Nou vra ek jou, as ‘n fetus kon praat wanneer ‘n aborsie uitgevoer word, wat sou hy sê? “Dokter, asseblief, jy wat lewe moet beskerm en bewaar, moet asseblief nie daardie instrumente naby my bring en my liggaampie uitmekaar skeur nie. Ek verdien ‘n kans. As my ma my nie wil hê nie, wil iemand anders dalk. Asseblief … ek verdien dit nie!” Aborsie is brutale, wrede moord op die mees ondenkbare manier moontlik, en dan word dit deur ‘n siek samelewing gewettig, beoefen en goedgepraat. Hulle noem dit nogal “pro-choice”. Wie se “choice”? Wat sou gebeur as ‘n kind maar net kon praat?
 

Hierdie volgende stelling is nogal sensitief, maar ek wil dit nogtans sê: nie alle Mamma’s hoef te werk nie. Enkel-ma’s moet werk, verseker. Maar … baie Mamma’s sou nie alleen-mamma’s gewees het as ‘n kind net kon praat en gehoor word nie. Vergewe my as jy dink dat ek veralgemeen – maar ek dink nie ek doen dit nie.  As ‘n kind sy huislike omstandighede kon kies, sou die meeste huishoudings anders gelyk het. Die Here bou ‘n sin vir volmaaktheid, vreugde, vrede, liefde, geluk outomaties in ‘n kind in. Ek het nog nooit gehoor van ‘n kind wat onbedaarlik begin lag as Ma en Pa soos barbare met mekaar aangaan nie. En ek het nog nooit gehoor van ‘n kind wat onbedaarlik begin huil omdat Ma en Pa saamlag en speel nie. Ek het gisteraand vir Raymond Dye (‘n berader) gevra hoeveel mense in sy spreekkamer beland a.g.v. probleme uit hulle kinderjare. Sonder om twee keer te dink het hy geantwoord: “95%”. As ‘n kind kon kies sou hy iets anders gekies het as wat hy mee opgesaal word. Party Mamma’s sê: “ek is nou maar eenmaal ‘n beroepsmens”. Izzit … en is jy trots daarop? Het jy gehoor van die “beroepsmens”-mamma wat onlangs op Oprah se program was? Sy moes haar slapende kind iewers gaan aflaai oppad werk toe. Toe vergeet sy van die kind, en los haar vir 8 ure in die motor.

Die kind is dood! Beroepsmens, en nou ook nie eens meer ‘n ma nie. Wat sou die kind kies? “Mamma, ek soek jóú, en nie jou ontwerpersklere, duur motor, fancy huis en finansiële oorvloed nie”. Net miskien, sou dit anders kon wees vir jou. Hoe klink die volgende storie vir jou (uit ‘n kind se mond)? “Mamma het 21 jaar gelede ‘n geloofstap geneem om teen alle berekenings in nie weer in die formele arbeidsmark te staan nie. Haar motor is wel 19 jaar oud. Pappa het nog nooit in sy lewe ‘n nuwe motor besit nie. Ek en Sussie ken nie van trek nie, ons bly nog al die tyd in dieselfde huis. Ons dra nie “brand-name” T-hemde of broeke of skoene nie …. Maar, ons ouers KEN ons deur en deur. En ons vir hulle. Ons tuin kort bietjie werk, maar ons kan daar speel. Ons ken nie duur geskenke nie, of duur vakansies nie, maar Mamma was nog altyd dáár vir ons. Volgens Pappa het die begroting nog nooit op papier uitgewerk nie. Maar ons lééf!” Hierdie is toe nie fiksie nie – dit is die “true story” uit ons huishouding!
 

Spreuke 23:29-35
Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank. Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos ‘n slang, spoeg hy gif soos ‘n kobra. Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op ‘n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.
 

Hoeveel hartseer, pyn, swaarkry, ellende, sou die mensdom gespaar gewees het as ‘n kind oor hierdie onderwerp kon praat, en gehoor word? Kan ‘n kind in woorde noem wat dit aan hom doen as ouers hierdie verwoestende probleem van drankmisbruik het? Geen kind het sekerlik nog ooit met trots vir sy vriende vertel hoe oulik sy pa was toe hy hom aan die bottel vergryp het nie, en toe iemand anders geword met slegte taalgebruik, irrasionele optrede, skandalige gedrag … en nog verder, geweld, mishandeling (emosionele en fisiese) en seksuele misdrywe. Watter Pa (of Ma) wat in hierdie ding vasgevang is, luister as sy kind sê: “Pa, asseblief, ek wil jou hê soos wat jy destyds was toe ek nog trots op jou was. Pa, besef jy dat jy my presies só maak soos wat jy is? Al haat ek nou elke oomblik daarvan?”
 

Dan, laastens moet ek jou vra: sien ons om na ons kinders se geestelike behoeftes? Hulle smag daarna, weet jy? Elke kind het ‘n ingebore behoefte om Jesus te leer ken. Dis mos hoekom Jesus gesê het: “wees soos ‘n kind”. Sal ons vir ‘n kind luister as hy vra: “Pa en Ma, WYS my hoe dit is om soos Jesus te wees. Leer my van God se genade. Vertel my hoe mens in die hemel kan kom” Sal jy jou kind kan antwoord? Sal jy luister as jou kind sê: “Pa en Ma, moet my asseblief nie net by die Sondagskool gaan aflaai as julle self nie eens kerk toe gaan nie. Moet asseblief nie my geestelike opvoeding op iemand anders afskuif nie. Ek wil Jesus (en Sy liefde) in JULLE sien, en uit julle monde hoor.”
 

Hoekom gebruik ons so graag die frase: “Uit die mond van die suigeling”?  

…. As ‘n kind net kon praat.

En as ons net kon hoor ….

Bron:  heuning.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.