Besig, besiger, besigste

Besigwees word bepaal deur ons siening van tyd. Vir die meeste van ons is tyd geld. Daarom is daar nie tyd vir rondsit en niksdoen nie. Tydmors is uit. 

Geen wonder nie dat ons opgeskeep sit met terme in ons woordeskat soos ‘tydsbestuur’ en ‘effektiewe tydsbenutting.’ Ons moet deesdae selfs al tyd spaar om meer effektief te wees! Daar het jy dit, ons is tyd-verslaafdes! Ons horlosies en dagboeke dryf ons.

Ons jaag buite die spoedgrens na elke nuwe bestemming toe in die hoop dat ons dalk iewers twee of drie minute sal spaar. Helaas spaar ons nooit regtig tyd nie. Ons jaag maar net ons eie hartklop op en laai vragte vol nuwe stres op ons skouers.

Hoor hier, die Here het ons nie aanmekaar gesit om so te leef nie. Dit is nie deel van sy plan dat ons daagliks deur die klankgrens moet bars nie. Ons is gebou vir verhoudings. Hiervoor het ons kuiertyd nodig. Verhoudings gaan oor raaksien-tyd, luister-tyd, stilstaan-tyd, handevat-tyd.

Het jy ooit tyd hiervoor?

Koop ‘n slag hierdie soort tyd by die Here uit. Leef vinnig genoeg vir Hom en vir verhoudings.

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.