Die lewe is kort

•    Wonderwerke gebeur nog. 

•    Hê respek vir ouer mense. En maak jou ore oop. Wat jy miskien sien as kritiek is dalk wysheid van onskatbare waarde. 

•    ONGELUKKIG is ‘n mens noooooooooooooooit te oud om te leer nie. Ouers kan ook soms iets by kinders leer. 

•    Dis nodig om jouself gedurig af te vra: “Wat maak iemand soos ek, in ‘n wêreld soos hierdie, saam met mense soos julle?” 

•    Dis skokkend hoe baie mense te vroeg of te vinnig of te gat-oor-kop of vir die verkeerde redes trou en op my ouderdom al weer geskei is. 

•    Om ongelukkig getroud te wees is erger as die hel. As jy nie so iemand ken nie, glo dit maar net. Dis nie oumensstories nie, dis waar. 

•    Dit is die moeite werd om te wag vir jou absolute beste maat… en dis ook die moeite werd om alleen deur die lewe te gaan as jy hom/ haar nie kry nie. 

•    As enigiemand, meisie, ou, familie, ENIGIEMAND jou anders oor jouself laat voel as wat jy doen, skei uit. Die lewe is te kort. 

•    Moet nooit dat iemand jou laat voel jy moet verander om in ‘n spesifieke raampie in te pas nie. Wees jouself en ‘to hell’ met die res. 

•    As iemand jou werklik lief het, sal hy/ sy jou aanvaar net soos jy is. 

•    Daar is nie ‘n geheime resep nie. Elke persoon het ‘n eie unieke persoonlike verhouding met God. 

•    Dis OK om anders te wees as die res. Jou ouers vat gewoonlik die langste om hieraan gewoond te raak, wees geduldig.  

•    Een persoon se skade aan jou siel is partykeer erger as 100 se goed. Verhoed dit vroegtydig en ten alle koste. Dit raak al hoe moeiliker om so ‘n deur agter jou toe te maak. 

•    Annie Malan se ma het gesê:  “As jy verlief is moet jou kop en jou hart dieselfde taal praat. As dit nie doen nie, luister vir jou kop”.  

•    Trou met iemand wie se ouers en ouershuis vir jou soos ‘n tweede hawe is…EN ANDERSOM. 

•    Elke mens bepaal sy eie geluk .  Dit is nie jou verantwoordelikheid om ander mense gelukkig oor hulself te laat voel nie.

•    Daar is ‘n innerlike kind-wees binne-in elkeen van ons. Moet hom nie verwaarloos nie. 

•    Ons almal het engele in ons lewens. Hulle het net nie vlerke nie, daarom herken ons hulle nie so maklik uit nie. 

•    As jy so voel, tjank totdat daar nie meer trane oor is binne-in jou nie. Dis ongelooflik terapeuties vir die siel. En ‘n instant resep vir ordentlike poep oë 

•    Maretha Maartens sê in haar 26 lewensfeite vir vroue : “Die ego van ‘n trouman is so dun soos ‘n membraan. Bly weg van ‘n man met ‘n ego wat nog dunner is. Telkens, wanneer die pieperige ego’tjie skeur, gaan die eienaar jou verantwoordelik hou vir lyding en verlies aan lewensgehalte.  

•    As jy ‘n man is… neem verlief hiermee of trek die skoen aan as hy jou pas. 

•    Op skool het hulle ons geleer dat elke reël in Afrikaans wel ‘n uitsondering het. Wees die uitsondering.

•    Moet nooit mense veroordeel nie. Jy bevind jouself dalk net eendag in dieselfde situasie. 

•    ‘n Baba moet eers skop voordat hy leer kruip en loop. In die lewe gaan dit ook so. As jy jou omring met mense wat al hardloop terwyl jy nog kruip mag dit dalk net tot frustrasie lei. 

•    Geld is nie alles in die lewe nie. Dit maak dalk die lewe op die oog af makliker, maar dis dit? 

•    Kinders bly jou kinders tot die dag van jou dood, maar oor die jare word hulle ook grootmense. 

•    Waardeer jou ouers. Hulle het jou oneindig lief. Jy weet nie hoe lank jy hulle nog het nie. Jy sal dit 10 trippeld terugkry. 

•    Vermy besigheid met familie so ver as moontlik. 

•    Dis OK om soms net aan jouself te dink. 

•    Leer om te luister vir daai klein stemmetjie daar doer diep agter in jou kop. 

•    Omring jouself met mense en dinge wat goed is vir jou siel. 

Moet nooit vergeet wie jy is en waar jy vandaan kom nie.  Dit IS wie jy is en dit IS waar jy vandaan kom. Dis die boublokkies wat jou gevorm het tot wat jy is.  

In ‘n lewe waar alles besig besig besig besig is, maak iewers in jou alledaagse bestaan tyd om te dink oor die lewe.

In my hart is ek ‘n Namakwalandse blommekind.  En sal dit altyd wees.

Bron:  http://afrikaans.news24.com/MyNuus24/JouStorie/Die-lewe-is-kort-20110816

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.