Gebed van ‘n graad eentjie se ma

Dis vandag sy tweede dag en ek voel weer teer, maar om ‘n heel ander rede. Ek is net soveel dank aan U verskuldig dat dit vir my kinders so lekker is om skool toe te gaan. Dankie Heer vir gesonde kinders, wat my hart so laat swel dat ek amper nie kan asem kry nie. Dis slegs deur U genade dat hulle ongedeerd hier uitgekom het, want dit gaan partykeer maar rof by ons. Dankie Heer vir ‘n pa waarna hulle kan opkyk en gee aan hom die wysheid, want dis nie maklik om jou seuns se rolmodel te wees nie. Baie dankie ook Heer vir ons wonderlike skool en sy mense en wees met hulle (want ek wil nie hul werk hê nie!).

 

Ek bid en vra dat U asseblief U engele saam met my seuns sal stuur waar hulle ookal hul begewe. Liewe Heer beskerm hulle asseblief teen die wêreldse aanslae, maar berei hulle terselfde tyd voor om sterk te staan vir U.

 

Namens sommer al ons mamma’s wil ek u net bedank vir die voorreg om U kinders groot te maak. Vergewe ons asseblief daar waar ons tekort skiet en skenk ons die wysheid en geduld en wat ons ookal nodig het, om ons kinders te help om hul volle potensiaal te bereik, net vir U.

 

Amen

 

 

 

 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.