Gered om te dien

 

Het jy al ooit gewonder hoekom God jou nie dadelik hemel toe vat die oomblik as jy jou hart vir Hom gee nie? Hoekom los Hy ons in hierdie gevalle wêreld? God is van voornemens om jou te gebruik nadat jy gered is. Efesiërs 2:9 “God het julle gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat julle goeie dinge gedoen het nie. Daarom mag niemand spog nie want dit is God wat ons gemaak het wat ons is. Hy het vir Christus Jesus gestuur sodat ons soos nuwe mense kan lewe en goeie dinge kan doen. God het hierdie goeie dinge wat ons moet doen, lank gelede gereedgemaak.”
 

Ons elkeen het ’n plek, ’n rol om te vervul, ’n werk om te doen hier op aarde. Ons moet net aanmeld vir diens. Daar was 70,000 vrywilligers wat by die Olimpiese Spele in 2012 in London gewerk het. Hulle harde werk, vriendelikheid en hulpvaardigheid het bygedra om die Spele ’n sukses te maak. Hierdie vriendelikheid, hardwerkendheid en behulpsaamheid het almal aan die praat gehad. Is ons ook sulke passievolle werkers in Sy Koninkryk? Dien ons op so ’n wyse dat mense nie uitgepraat raak daaroor nie, of werk ons soos spioene “undercover”?

Ons vriendelike buurman oorkant die straat skoffel ons oprit vir ons skoon as dit sneeu. Hy sê nie ’n woord nie en as ons maar weer sien is die liefdesdiens gedoen. Om ander te dien is Goddelike werk. Die liefdevolle versorging waarmee die verpleegpersoneel by die hospitaal my sterwende pa behandel het, het soveel vertroosting na sy dood gebring. Wanneer ons ander mense dien asof ons ons Hemelse Vader dien, sien ander Hom in ons.

Die WhiteChapel Mission in London bedien, deur vrywilligers, vroegoggend ’n volledige “English breakfast” vir 360 haweloses. Elke oggend 6 uur meld ’n nuwe span van 8 sakemanne aan, wat ten spyte van besige programme, help kosmaak. Teen die tyd dat hul werksdag begin is hul terug op kantoor en het hul klaar ’n verskil in ander se lewens gemaak.

Hoe anders sou die wêreld gelyk het as almal hierdie opdrag van diensbaarheid toegepas het!

“Prayer in action is love, and love in action is service. Try to give unconditionally whatever a person needs in the moment. The point is to do something, however small, and show you care through your actions by giving your time …” — Mother Teresa

Bron:  ekerk.

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.