God Se Tydsberekening



Soekend na meer
Dit was in haar dertigs dat Ella ’n krisis-oomblik beleef het. Sy beskryf dit as daardie fase wanneer die ‘prentjie’ voltooi is, met ’n suksesvolle man, kinders, en ’n mooi huis, maar ten spyte daarvan dat jy alles het wat jy dink jou gelukkig sou maak, ’n ware lewensvreugde ontbreek. Sy beskryf daardie oomblik as een waar sy letterlik met haar neus teen die mat haar lewe totaal aan God oorgegee het. Sy was soekend na sin vir haar lewe en het na God uitgeroep vir Sý wil en doel vir haar lewe. Dit is daar, plat op die mat, waar Sy vrede haar aangeraak het. Sy het geweet dat sy volkome sin in haar lewe sal ervaar wanneer sy besig is met dit waarvoor God haar geskape het.

Woorde en melodieë
Ses weke daarna het Ella ’n melodie en woorde in haar kop gehoor. Sy het by ’n robot stilgehou en die woorde gou op ’n stuk papier neergeskryf voordat sy dit vergeet. 
Wat dit so merkwaardig maak, is dat Ella glad nie note kan lees of skryf nie, skaars kon klavierspeel en ook nie ’n digter is nie. By die huis aangekom, het sy voor haar klavier gaan sit en ure geneem om die melodieë wat sy hoor, uit te tokkel en te memoriseer omdat sy dit nie kon neerskryf nie. 
Twee jaar lank het sy dit gedoen sonder dat selfs haar man daarvan geweet het, tot hy eendag vroeër as gewoonlik huis te gekom het en nie kon glo wat hy hoor nie. Ella is ’n skaam tipe mens wat nie met ’n ding te koop loop nie. Toe vriendinne wat die liedjies hoor, bewoë raak en dit duidelik word dat dit mense aanraak, het Ella se gedagtes teruggegaan na dié dag op die mat toe sy alles vir God gegee het. 

Stap deur die oop deur
Dit haar ses maande geneem om vir Christa Steyn te bel, met wie haar pad vroeër gekruis het. Christa se rustige stem het Ella die moed gegee om die geleentheid te benut. Christa het besef dat hierdie nie ’n gewone opneem van ’n CD met mooi ‘liedjies’ is nie, en het later erken: “Ek wag al my lewe lank op so ’n projek.”

Unieke befondsing
Ella se eerste CD is op unieke wyse befonds. Omdat sy nie ’n mens is wat van ‘kaggelkaffies’ hou nie, het haar man vir haar 20 Bonsmara koeie vir haar verjaarsdag gekoop! Daardie jaar was die verjaardagkaartjie ’n foto van haar koeie op haar pa se plaas. 
Dit is ook hierdie gunsteling koeie wat sy verkoop het om vir haar CD te help betaal. “Dit was die beste uit my ‘oes’ en ek wou nie gehad het John moes vir alles betaal nie, al wou hy dit ook hoe graag gedoen het.” Haar man, John, ondersteun Ella in woord en daad. In Ella se eie woorde: “As jy vir ’n vrou ’n oormaat liefde en aanvaarding gee, gaan sy tot volheid en sin in haar lewe kom. Dit is wat John vir my gedoen het.”
Haar eerste CD, ‘Gebede vir Vroue’ is in 2010 vrygestel en die gene-
singsproses tot vergifnis speel tematies ’n groot rol in die liedjies op die CD. Haar tweede CD, ‘Gebede vir Vroue: Volume 2’ handel oor die groeifase ná die genesingsproses. Ella merk op dat dit handel oor hoe om hierdie ‘nuwe’ lewe nou te leef. Daarom is daar byvoorbeeld ’n lied soos ‘Lawe Lappie’ wat oor selfbejammering gaan.” Ella bedien vroue graag: “Daar is geweldig druk op vroue – jy is ma, jy is vrou, sommige vroue sien ook nog na hul ouers om, staan haar plek vol in ’n beroep, dien in die kerk, moet vriendinne ondersteun, en êrens ook nog die ‘gym’ en by God uitkom.” Haar lied, ‘Gebreekte Kruike’ gaan juis daaroor dat dit nie saak maak hoe jy lyk nie, of jy perfek is nie, elke kruik kan God gebruik.”

Passie vir gebed
Ella het ’n passie om te bid: “Gebed is die fondasie vir jou verhouding met God. Gebed en luister na God!” Sy glo dat God tyd van ons vra. Sy het letterlik elke dag ’n afspraak met God, ’n beplande tyd wat opsy gesit is om met Hom te bestee: “In ons tydgedrewe lewens sal ons dit nie doen as ons nie tyd daarvoor opsy sit nie. Jy moet beplan vir tyd met God. Hoe meer tyd ek met Hom bestee, hoe duideliker word Sy Woord vir my.” 

Bring mense by God se liefde uit
Haar musiek is een aspek van haar lewe en net ’n deel van haar eintlike passie – om mense by God se liefde en genesing uit te bring – daarom hou sy ook nie ‘konserte’ nie. Saam met haar vriendinne, Hilize Schutte en Jeanine Smit, is sy deel van ’n span wat betrokke is by die berading van stukkende mense.  Sy vertel dat hulle ‘n rukkie gelede’n heroïenverslaafde vrou beraad het en bevryding gedoen het. Die vrou bid al 5 jaar lank dat iemand haar moet help. God het gehoor en iemand gestuur wat haar by dié beradingspan uitgebring het. Ella kyk met ander oë na hulle wat verlore op straathoeke staan: “Wie sou kon dink dat hulle ook gebede opstuur daar waar hulle staan!” Ella voeg by: “Ons staan almal maar eintlik op die hoek van die straat; sonder Jesus is ons almal verlore straatmense.” 

Praktiese advies vir groentjies
Vir ‘groentjies’ wat met ’n musiekloopbaan wil begin, het Ella die volgende raad: “Die belangrikste is om eers te bid! Om ’n CD te maak is duur, wees dus seker oor wat jy wil doen. Jy hoef nie dadelik musikante ten duurste te huur nie. Gaan na ’n studio toe en laat hulle vir jou ’n klankbaan maak (‘backtrack’), jy kan vier liedjies opneem vir ongeveer R 3 000. Praat met mense om jou, vra en vind uit, maar wees ook versigtig, daar is baie ‘haaie’. Moenie moed verloor nie, alles gebeur op God se tyd.

God se tyd nie myne nie
“Ek moes leer dat tyd geleentheid is. Dat elke minuut deel uitmaak van God se Horlosie, nie myne nie. God se doel en plan vir ons lewe is nie altyd wat ons dink dit moet wees nie. Prediker 9:11 sê: “Dit is nie die vinnigstes wat die resies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie…nie die verstandiges wat ryk word nie, nie die met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.”Daar is ’n tyd vir alles. Hy het ’n doodgewone mens soos ek geneem. Kyk wat kan jy doen as jy jou lewe vir Hom gee. ’n Eenvoudige huisvrou wat nie note kan lees of skryf nie se appelkis is omgegooi en gebruik om ander te seën.” 

Om te beteken
Ella sê in haar laaste lied op CD 1: “Ek wil beteken, vir ander…Ek het by Jesus gesien.” By Ella leer ons: Jy is nooit te oud, of te jonk om te doen waarvoor God jou roep nie (Abraham en Dawid), as God jou roep, rus Hy jou toe. In die onmoontlike word juis Sy teenwoordigheid openbaar gemaak. Dit is ‘op die mat’, in diepe soeke na God, en Hom alleen, waar Sy wil vir ons gebore word, waar alles neergelê is, waar ons ongekwalifiseerde ‘niks’ ’n seën tot ander in Sy hande word. Hy neem ons vissies en broodjies en voed menigtes daarmee – nie omdat ons is wat ons is nie, maar omdat Hy is Wie Hy is.

 

Bron:  juig

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.