Mnr. Hans Pietersen, skrywer van Die vrese van ons vaders, het met Van der Merwe saamgestem dat die voorgestelde beleid van mnr. Kader Asmal, voormalige minister van onderwys, dalk die beste was. Daarvolgens moes godsdiens by skole uitgefaseer word.
Pietersen het in 2009 groot opslae gemaak toe sy organisasie, die Afrikaner-Vrydenkersbeweging (AVB), sy stryd teen godsdiens in skole formeel gemaak het. Talle onderwys- en burgerregte-organisasies het daarteen te velde getrek en aangebied om skole met regskoste te help.
Rapport kan vandag onthul dat die werk van die AVB voortaan verrig gaan word deur die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie (Ogod). Volgens Pietersen sal hulle die staat help om hul funksies te verrig en godsdiensbeleide volgens wet toe te pas. Daar is verskillende interpretasies van wetgewing en die kwessie sal waarskynlik in die howe draai.
By die boekbespreking het hy benadruk dat alle godsdiensbeoefening nie sleg is nie. “Ek is nie anti-godsdiens nie. Ek is nie anti-Christenskap nie. Ek is nie anti-Jesus nie. Ek is absoluut anti-manipulering.”
Hy het verwys na ’n sesjarige kind wat by sy onderwyser moes hoor hy gaan hel toe. “Dit is onvanpas en absurd.”
Dit verstom Pietersen dat Afrikaners graag hof toe gaan vir hul “minderheidsregte”, maar tevrede is met situasies waar hulle die meerderheid is en ’n enkele Moslem-kind in ’n klas byvoorbeeld blootgestel word aan ’n onderwyser wat kinders vra om hande op te steek as hulle nie in Jesus glo nie.
Bron: http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Godsdiens-in-skole-gaan-monster-skep-20110716