Leraars in NG Kerk verkondig troos en hoop aan onvolmaaktes

Dit daar gelaat.

Een ding moet ons onthou, ons almal wat lidmate van die NG Kerk is – en dit geld vir ander kerke se lidmate ook – is dat ons ’n klomp onvolmaakte mense is wie se lewens soms veel te wens oorlaat.

Maar ons is ook mense wat bakhand voor God kom staan om genade by Hom te bedel.

Ek dink aan myself wat al hoeveel keer in my lewe teen God gerebelleer het en die boodskap wat ek dan in die einste NG Kerk kry is dat God se genade is vir my ook bedoel.

Hy begin elke keer van vooraf met my.

Ons het ’n dominee wat ’n klassieke voorbeeld is van hoe om Christus se liefde uit te leef. Sy lewe by sy huis lyk so en sy lewe op die kansel lyk so.

Hy is net soos Christus nooit te besig om na sy gemeente te luister nie en te help om heel te maak.

Wanneer ons my skoonouers op Dullstroom besoek, kry ek presies dieselfde boodskap in die NG kerk daar. Soms woon ons eredienste in die Klipkerk op Heidelberg by en albei predikante daar verkondig dieselfde boodskap: Genade aan ’n klomp onvolmaakte mense – dit is al.

Dus, ja, ek ellendige mens, verdedig my kerk, want my hele lewe lank is troos en hoop die boodskap wat die NG Kerk aan my verkondig.

Bron: http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Leraars-in-NG-Kerk-verkondig-troos-en-hoop-aan-onvolmaaktes-20110713

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.