Jy hoef NIE God se guns te soek NIE, Hy bederf jou met al sy goedheid onvoorwaardelik, omdat Hy is wie Hy is.
Hoor hoe mooi het Jesus dit self gesê toe Hy nog as mens hier op aarde was: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. … na die Gees verwys.” (Johannes 7:38-39) Ons as Jesus-mense word vol gemaak met die Gees van God, sodat Hy ons kan gebruik as kanale van oorvloed lewe, die lewe waarna die verlorenes smag. Ons is God se antwoord op elke tekort, elke pyn, elke hartseer – so het Hy besluit om te wys wie Hy regtig is. Hy is besig om die wêreld ‘n beter plek te maak vir elkeen wat vir Hom plek in sy lewe maak. Dit alles gebeur in die Godstad: in ons bekeerde verhouding met Hom, in ons band met die geloofsgemeenskap waarin ons Hom aanbid.
As inwoners van die Godstad deel ons gesamentlik in al die voordele wat dit vir ons bied, want“… dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.” (Openbaring 22:1) Alles wat mooi is, alles wat goed is, alles wat met liefde te doen het, alles wat opbouend en vernuwend is, kom van ons Inwonende-Skepper-Gees-God!
Dit is die maklikste en allerbeste om ‘n inwoner van die Godstad te wees! Geen druk, geen tekort, geen prestasie, geen boosheid, geen ekkigheid vir elke geliefde en elke soekende een van ons.
Kom ons sê net opreg: “1000 dankies, Oorvloed-gewer, vir die verniet-lewe!”
Bron: http://doomcharl.blogspot.com/ NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.