Hoe verdedig jy die evangelie?

Wat van ‘n ander roete? Wat daarvan dat, wanneer jy in situasies beland waar ander jou aanvat oor jou geloof, jy hulle eerder innooi na jou eie speelveld toe? Hoekom moet jy altyd ingetrek word in hulle argumentasie? As jy dit toelaat, dan is jy reaktief. Dan verdedig jy maar net jou eie geloofsheining. En jy wil tog meer as net dit doen. Jy wil onder ander mense se vel inkom en hulle laat beleef dat die evangelie ‘n paar vars nuwe invalshoeke het wat hulle nog nooit raakgesien of oorweeg het nie. Verduidelik met groot vrymoedigheid vir diegene wat met jou verskil wat die pilare van jou geloofshuis is.

Moet nooit aanvallend of liefdeloos wees nie. Onthou, jy is nie aangestel as ‘n amptelike advokaat vir die Verdediging nie. Jy en ek hoef God gladnie te verdedig nie. Hy doen dit Self! Hy het ons slegs aangestel as Christus se getuies. Ons lê getuienis af van sy goedheid en genade. Dit doen ons altyd keurig, maar ook met wysheid. Jesus roep ons juis in Matteus 10:16 op om wys soos die slange en weerloos soos duiwe te wees tussen mense wat anders as ons dink, leef en glo.

Goeie vrae is altyd ‘n belangrike vertrekpunt in enige gesprek. Moenie dat ander jou die heeltyd hiermee peper nie. Klim uit die beskuldigdebank. Vra self ‘n paar vrae van jou eie soos: “Hoekom dink jy soos wat jy dink?” “Watter bewyse voer jy aan om jou geloof/ongeloof te staaf?” “Hoe seker is jy dat jy reg is?”

O ja, onthou jy hoef nie aan elke geveg rondom die waarheid van die evangelie deel te neem nie. Jy is nie ‘n straatvegter vir die Here nie. Nogmaals, jy is sy getuie. Kies jou gesprekke met oorleg, soos wat ek graag sê: “Choose on which hill you’re prepared to die on.” Stilbly is soms ook ‘n goeie antwoord soos wat die Spreukeboek my leer.

Bron: ekerk.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.