Die Here se GROOTSTE skatte is diep in die saailande van Sy koninkryk versteek. Dit is juis daar in die storms van die lewe dat jou geloof-spiere op die regte maniere geoefen word. Soos wat Petrus in hoofstuk 1 van sy brief verduidelik, is dit in die hitte van die vuur dat jou geloof soos goud gelouter en skoongebrand word. In die donkerte van krisisse, twyfel en teenstand kan jy immers nie net oor die teorie van geloof praat nie.
Daar moet jy dit juis prakties beoefen… of nie! Daar word jou karakter as man van God en vrou van God verder gevorm. Te midde van ongeloof, armoede, werkloosheid, misdaad, chaos, onsekerheid en vrees mond geestelike groei uit in impak, die Here se soort!
Geestelike groei wys veral op kerklike terrein — hier kan en moet jy jou kennis, gawes en getuienisse op bekende grondgebied tussen medegelowiges inoefen en beoefen. Eers wanneer jy op die grondgebied van ander koninkryke kom en daar begin leef, verhoog jou impak tussen nie-gelowiges, andersdenkendes en soekendes. Jesus leer ons immers in Matteus 5 dat sout slegs tussen nie-sout werk en dat lig net in die donker sigbaar is.
Daarom moet jy dit in die donker waag saam met die Here as jy wil vorentoe vorder. Jy is in elk geval nie ontwerp om permanent in veilige geestelike hawens rond te hang nie — daar gaan jy bloot net geestelik groei. Hoor mooi, jy is deur die Here herontwerp vir die gevaarlike oop see van die lewe sodat jy in sy Naam kan impak maak. Daar gaan jou geloof regtig begin wys wanneer jy Hom blindelings vertrou en getrou op sy pad loop.
Terloops, het jy al ratte verwissel vanaf geestelike groei na groter impak in die Here se Naam?