Kerk het ook Bokkoors

Oor die gebedsaksies wat in gemeentes gehou word, het dr Gerber gesê solank dit nie daarop gemik is om ’n spesifieke span te laat probeer wen nie, kan hy nie fout daarmee vind nie.
 

Dat baie van die wedstryde op ’n Sondag plaasvind, is volgens dr Gerber iets wat met realisme benader moet word. Hy sê dit hoef nie die deelnemers of toeskouers se geloof in die gedrang te bring nie. “Die keuses is soms moeilik, maar die feit is dat ons deel is van ’n globale sisteem en al die deelnemers is nie Christene nie.”
 

Ds Ben Marais van Gemeente-ontwikkeling en Kerklike Samewerking (GKS) in Wes-Kaapland, sê die GKS wil graag dieselfde energie skep as tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi. “Behalwe die 24 uur-gebedswagte en ‘boiler rooms’ word gemeentes aangemoedig om al die deelnemende lande se landsvlae in hulle kerkgebou te vertoon. Dit kan lidmate aanmoedig om in die ‘boiler room’ vir sake wat die onderskeie lande na aan die hart lê te bid.”
 

Ds Marais stem saam dat sport ’n afgod kan word, maar het aan Kerkbode gesê dit gaan in hierdie projek glad nie daaroor om van sport ’n afgod te maak nie. “Die doel is eerder om die geleentheid te gebruik om lidmate meer betrokke te kry by die kerk se werk. Navorsing toon dat 80% van die kerk se lidmate op ’n weeklikse basis op een of ander manier iets met sport te doen het. Ons wil die geleentheid gebruik om die evangelie deur middel van sport oor te dra.”
 

Een van die planne is om Sondae wanneer daar wedstryde gespeel word alternatiewe eredienste aan te bied waar lidmate die wedstryde voor of ná die diens kan volg. Ds Marais sê dit beteken nie rugby word bokant God gekies of dat daar gekies word tussen kerk en God nie. Hy sien dit as ’n ideale geleentheid om mense wat andersyds glad nie kerk toe sou gaan nie nader te trek na die kerk en ook om mense te motiveer om kerklik aktief betrokke te raak. 

Ds Marais het gesê daar is ook talle mense wat nie aktief betrokke is by hulle kinders se lewe nie. Die GKS hoop om op dié manier die band tussen veral pa’s en hulle kinders te versterk.

Bron:  www.kerkbode.co.za

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.