Leef dit

 

Ten spyte van indrukwekkende geloofsgroei in ons deel van die wêreld, bestaan hier min vertroue tussen mense. Daarom dat ons weer 1 Korintiërs 13 moet lees en begin uitleef. As God se liefde in ons harte is, dan glo en verwag ons altyd die beste van mekaar. Nee, dit beteken nie ons gaan deel koeëls uit vir misdadigers, of knoop toue vir mense wat hul lewens wil beëindig nie. Ons moet immers ook met wysheid leef en nie dwase se hande sterk nie. Tog moet ons oop en sonder enige agendas leef voor God en tussen ander.

Ons behandel alle mense as die Here se eiendom, of hulle op sy lys van verlore besittings is, of nie! Ons praat hoop, of ander mense op hoopverloor se vlakte uitkamp, of nie. Ons sien ’n nuwe wêreld, of mense hulleself blindstaar teen hierdie stukkende werklikheid, of nie. Ons versprei lewe, of die reuk van dood in ons omgewing wen, of nie. So wen nuwe statistiek in ons eie omgewing op die regte maniere.

 Bron:  ekerk

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.