Sonder onvoorspelbaarheid, lukraakheid (randomness), raak die lewe dodelik. Die natuur floreer op ’n sekere mate van lukraakheid, wanneer ’n plant seerkry of selfs wanneer ’n woud afbrand, is dit die beste ding wat kan gebeur, die natuur pas aan en versterk. Wanneer jy die heeltyd dieselfde oefening by die gimnasium doen, sal jy vinnig soos ’n mutasie lyk. Ervare oefen-ers weet dat jy jou spiere moet verras. Boonop sal elke kwantumfisikus jou vertel dat sonder ’n mate van chaos, die heelal nie kan bestaan nie.
Hoekom dan wil ons, ons lewe saam met Jesus so voorspelbaar hê? So uitgewerk en beplan? Ons is so bang vir lukraakheid, dat ons onsself beskerm met roetine en polisse en as dit nie werk nie dan bedwelm ons die lukraakheid van die lewe weg en loop rond met ’n farmaseutiese glimlag.
So lank alles dieselfde bly.
Lees weer hierdie teks: “Daarom moet jy nie vol allerhande vraagtekens wees oor my woorde dat julle nog ’n keer gebore moet word nie. Leer uit die natuur. Hoewel jy die wind hoor waai, kan jy dit tog nie beheer of stuur nie. Dit waai waar dit wil. Jy weet nie eens presies waar dit vandaan kom of waarheen dit uiteindelik waai nie. Maar nogtans waai dit. Presies dit is waar van die manier waarop die Gees werk. Elke persoon wat uit die Gees gebore word, ervaar dit ook so.” — Johannes 3:7-8 DB
Kinders van Jesus is windverwaai, span jou seile en ry die golwe eerder as om in die swembad langs die strand te plas.
Bron: ekerk.org
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.