Dit is normaal om vrae te vra, maar namate ek ouer geword het vra ek al hoe minder vrae van God en oor God en laat ek myself toe om te aanvaar dat Hy die beste weet vir my en dat daar baie dinge is wat ek eers in die hiernamaals sal begryp. Ek het geleer dat dit baie belangrik is om God te respekteer vir Sy groter planne en daarby in te val.
Jy het dalk ‘n kans om dinge te verander
‘n Hele aantal jare gelede nadat ek ‘n mannekamp bygewoon het en daar geleer het watter groot persentasie manne swak verhoudings met hulle pa’s het en watter rol vergifnis speel in die herstel van sulke verhoudings, skryf ek ‘n brief vir my pa. Ek verduidelik dat daar tog dinge is uit ons historiese verhouding wat so bietjie gekrap het oor die jare en dat dit belangrik is vir my om hom daarvan te laat weet sodat ek die las van MY af kan laai. Ek wil ook vir hom sê dat ek hom daarvoor vergewe het — dit was ‘n wilsbesluit en natuurlik is dit wat ons Hemelse Vader van ons vra in gehoorsaamheid aan Hom. Daardie brief was ‘n keerpunt in ons verhouding en alhoewel ons hier in Engeland gewoon het en ek my pa een of twee keer per jaar gesien het, het ons weekliks per telefoon en tussenin per epos in verbinding gebly. Toe kom die nuus 2 en ‘n half jaar gelede, my pa het kanker. Sy kanse op oorlewing was nie goed nie en hy sou waarskynlik daaraan sterwe. Die internet is ongelooflik. Binne minute met my tandheelkunde agtergrond het ek al die inligting wat ek nodig het. Op daardie stadium is dit ‘n akademiese oefening vir my, maar mettertyd sink die realiteit in. Ek maak ‘n doelbewuste besluit om meer kwaliteit tyd saam met my pa te spandeer. Partykeer is daar die geleenthede om verhoudinge beter te maak en om te draai op die pad wat jy met iemand loop. As jy jouself dalk in so ‘n posisie bevind, hetsy met jou ouer/ouers, skoonouer/ouers, seun, dogter, skoonseun, skoondogter, vriend, broer of suster, (voeg maar by die lys) kry jou kant van die saak skoon. Laai jou bagasie af. Dit is nie sonder rede dat Jesus vir Petrus antwoord op sy vraag van hoeveel keer hy moet vergewe nie dat Hy sê: “sewentig maal sewe.”
Vergifnis bring heling vir ou wonde en is bevrydend. Daardie bevryding is die teenpool van verwyt. Hoe mooi is die Afrikaanse spreekwoord nie: “Spyt kom altyd te laat!” Terwyl ek hier sit en skryf het ek nie verwyte nie. Weet jy hoeveel kalmte dit vir my gee? Daar is egter die wat onafgehandelde besigheid as herinneringe erf en daarmee moet jy saamleef. Natuurlik is daar ook vergifnis vir onvergewensgesindheid, maar dit is soveel beter om ‘n nuwe blaadjie te kan omslaan voor jy by daardie punt uitkom. Ek wil so ver gaan as om te sê: Doen dit uit selfsugtigheid vir jou eie beswil. Op die einde sal jy werklik ervaar “for it is in giving that we receive.” Daar is meer om te ontvang as wat jy ooit kan dink dat jy gee.
Gebed
Here, U weet presies wat net die beste is vir my. U maak nie foute nie, al lyk U planne vir my lewe somtyds duister.
Ek bid dat U my hartseer en verlies en die beskrywing daarvan sal gebruik om ander te leer, te inspireer en te motiveer om onafgehandelde sake opnuut aan te pak en U beter te verstaan.
Bron: ekerk