Watter tipe jaar was 2011 vir jou? Was dit ’n jaar gevul met hoogtepunte (’n verlowing, ’n troue, ’n nuwe baba in die familie of dalk ’n prys wat jy vir ’n oorsese vakansie gewen het)? Of was dit ’n jaar wat jy eerder so gou moontlik wil vergeet (omdat jy ’n geliefde aan die dood moes afstaan, omdat jy deur ’n egskeiding gegaan het, omdat jy jou besigheid se deure moes sluit of dalk omdat jy die afgelope Kerstyd alleen moes spandeer)?
Soms word ons soos die passasier op die boer se bakkie. Hoewel Jesus reeds vir ons aan die kruis gesterf het om ons hartseer, teleurstelling, seer en sonde weg te neem en aan ons ’n oorvloedige lewe te gee (Johannes 10:10), kies ons om dit soos die groot, swaar rugsak saam met ons te dra.
Luister egter weer na die woorde in Filippense 3:13-14: “… een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”
Wat voel vandag vir jou soos ’n groot, swaar rugsak op jou rug? Waarom kies jy nie om dit los te maak en af te tel nie? Wat verby is, is verby. Kom ons strek ons uit na wat God vir ons in 2012 beplan. Wie weet, dalk is hierdie nog jou beste jaar sovêr! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U van elke hartseer, teleurstelling en seer van my verlede weet. Ek kies vandag om (noem wat vir jou soos ’n swaar rugsak voel) volkome aan U oor te gee. Help my om hierdie nuwe jaar my hoop in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.