Dié keer het die dokter, tydens ’n lang ondersoek van my oor, met sy mikroskoop tot teenaan my oordrom gekyk. Daar het hy, tot sy verbasing, ’n stukkie watte ontdek wat vroeër van die oorpluisie moes afgeval het! Dít het die ontsteking en pyn veroorsaak. Die dokter het dit verwyder en sowat ’n halfuur later kon ek reeds voel hoe die pyn besig was om op te klaar.
Hoewel verskeie dokters my voorheen ondersoek het, was dit asof God dié keer die dokter deur sy Heilige Gees gelei het na die kern van die probleem. Gebed het waarlik krag en al die eer gaan aan God!”
Leser 2, Johan: “Ek is ’n paramedikus in Mosambiek. ’n Tyd gelede ontvang ek een aand ’n oproep van ’n 60-jarige man wat sê dat hy pyn op sy borskas het dat dat hy sukkel om asem te haal. Hy het ingekom en ek het elke moontlike toets gedoen om die oorsaak te bepaal, maar geen abnormaliteite gevind nie. Die pyn het vererger en ek het geweet dat ek dadelik moes optree om langtermynskade aan sy hart te verhoed.
’n Hewige storm het losgebars en ’n mediese vlug na Suid-Afrika was onmoontlik. Terwyl die man se simptome vererger het, het ek desperaat tot God gebid en Hom vir ’n wonderwerk gesmeek. Aangesien mediese dienste in Mosambiek meer primitief as in Suid-Afrika is, het dit vir my gevoel asof my hande afgekap is. Ek het geweet dat die man kon sterf as sy simptome nie vinnig verander nie.
Na my gebed het ’n verandering ingetree en binne die volgende twee ure het die man se pyn soveel verminder dat hy rustig kon slaap. Daardie volgende oggend kon ons vir hom ’n plek aan boord ’n vlug kry (nog ’n wonderwerk), wat hom na ’n spesialis geneem het. In daardie situasie het ek beleef dat God ons wil help. Hy wag net dat ons Hom om hulp vra!”
Leser 3, Annalie: “’n Paar jaar gelede het ek en ’n kollega as passasiers aan boort ’n klein 4-sitplek vliegtuig vanaf die Rand se Sentrale lughawe na Harding gevlieg. Ons was net verby Vereniging, toe ons ’n harde slag hoor en die vliegtuig begin hoogte verloor het. Die vlieënier het gesê hy gaan eerder ’n noodlanding doen as om oor die Drakensberge te probeer vlieg.
Met die besef dat die grond vinnig nader gekom het, het ek na God uitgeroep en Hom gevra om ons te help om veilig te land. Die vlieënier het ’n stuk gelyk groen veld gesien en besluit om daar te land. Ons was reeds baie naby aan die grond toe dit voel asof iemand die vliegtuig optel en ’n paar meter vêrder op die grond neersit.
Ons het ongedeerd uit die vliegtuig geklim en besef dat ons ’n paar meter van ’n groot rots gestop het. Ons volgende ontdekking was dat die veld wat uit die lug “groen en gelyk” voorgekom het, eintlik baie rotsagtig was. As ons geland het waar die vlieënier aanvanklik beplan het om te land, sou ons heel moontlik gesterf het! Daardie dag het ek besef dat God by ons was en dat dit Hy was wat ons oor die rotse ‘getel’ het, tot waar ons veilig kon land!”
Anton, Johan en Annalie is reg. God begeer dat ons Hom vra om ons te help. Luister maar na die woorde in Mattheus 7:7: “Vra, en vir julle sal gegee word. . .” Ook in Jakobus 4:2b lees ons: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.” En in Markus 11:24 staan geskryf: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”
Wat pla jou vandag? Waarom vra jy nie ook vir God om jou daarmee te help nie? Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U luister wanneer ek met U praat. Help my asseblief met (noem jou hindernis) en lei my om met wysheid op te tree. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Bron: versndag.co.za
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.