Voorverlede week is ’n diens vir leerlinge aan die Hoërskool Bella Vista deur vader Johnathin Pieterse in die St.?Matthews- Anglikaanse kerk gehou.
Gerugte lui dat ’n gewese pastoor glo in die Bella Vista-woonbuurt ’n “kerk vir Satan” wil stig.
Die identiteit van dié “demoon-doom” soos die persoon hier bekend staan, is nog onbekend.
Inwoners vertel kinders dra reeds “tekens van Satan op hul liggame”. Die afgelope twee weke is by twee geleenthede dooie katte gevind – ’n bewys van sataniese rituele, beweer inwoners.
In die kettingbriewe sê skoolhoofde dat laer- en hoërskoolleerlinge reeds by die “duiwelaanbiddersgroep” betrokke is.
In een so ’n brief word ouers verder ingelig dat “Maart en April die offertyd van die satans-kerk” is.
In sy brief skryf mnr. Bennie Leendertz, hoof van die Hoërskool Bella Vista: “Die laaste tyd het daar verskillende gerugte, navrae en bekommernisse na die skool gekom rakende die beoefening van satanisme in die Ceres-omgewing.”
Leendertz sê verder “voorkomende programme” word deur geestelikes aangebied.
Of die sataniste ’n vrugbare teelaarde in die Ceres-vallei sal vind, is ’n ope vraag, het past. Kevin Burden van die Family Worship Centre op Ceres aan Rapport gesê.
Volgens Burden is die “probleem baie ernstig”.
Hy en ’n gebedspan is besig om onderwysers en ouers in die gebied op te lei om die probleem te pak.
“Ek het satanisme in die Transvaal beveg en ek het reeds talle tekens soos die heksagoon, die 666-teken en die ‘alsiende oog’ hier op Ceres gevind.”
Ds. Freddie Swart van die VGK-gemeente op Ceres sê die bedreiging van satanisme is nie groter as die tergende maatskaplik-ekonomiese probleme van tienerswangerskap, armoede, misdaad en drankmisbruik nie.
“Satanisme sal op Ceres binne ons bestaande geestelike aksies gepak word.”
Volgens mnr. Paddy Attwell, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het die betrokke skole die departement ingelig oor die kwessie.
Sielkundiges en maatskaplike werkers van die kantore van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik sal die skole op versoek bystaan.
Ao. November Filander, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie is bewus van die bewerings van satanisme in Ceres.
Geen verwante misdade is tot dusver aangemeld nie.
Bron: http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Sataniste-het-dorp-in-rep-en-roer-20120303