Toe die klok twaalfuur slaan… (deel 2)

 

Sommige pare vind groot baat by werkswinkels waar daarop klem gelê word om na jou maat se lewe te kyk soos hy/sy dit beleef; sonder voorbehoud te luister en te werk aan ‘n helingsproses deur middel van intensionele dialoog en rekonneksie.2

Hûh?!
 

Bunker toe! Die reaksie uit die bunker lyk soos die drie apies. Sien niks, hoor niks, sê niks! Wat my by die niks-boksie in ‘n man se brein bring.

In ’n man se kop is daar duisende boksies wat hy versigtig oopmaak as iemand daardie spesifieke onderwerp aanraak. Hy het net toegang tot één boksie op ‘n keer sonder om aan die ander boksies te raak en moet eers hierdie spesifieke boksie toemaak en versigtig bêre voordat hy ‘n volgende boksie kan oopmaak.
 

‘n Vrou se brein is ‘n komplekse draadnetwerk wat veroorsaak dat alles in haar lewe en gedagtes gelyktydig aan alle ander goed verbind is. Amper soos die internet. Alle inligting is heeltyd beskikbaar.3

So, as jy stres, is sy beste raad vir jou: Hou op om daaroor te dink. En jou beste raad vir hom is: Praat daaroor!
 

So kom niemand êrens nie.

Na my mening maak mans die ‘vrou’-boksie selde en met moeite oop. Te bang vir al die drade, skroefies en moere wat kan uitspring. En vroutjielief stamp onbewus al sy sorgvuldig geliasseerde boksies heeltemal deurmekaar.

Nog steeds sit ons vas in ‘n taai verhouding met skerp stukke.
 

Hoe kan ek my huwelik Vol liefde, Uitmuntend, Uniek, Rustig, Vriendelik, Aanpasbaar, Sonder selfsug maak?

Probeer die volgende:

©      Wanneer jou maat met jou praat/nie praat nie en jy weer soos gewoonlik wil reageer: Haal diep asem, tel rustig tot 5, asem stadig uit en sien ‘n prentjie van draadwerk wat bewe van bang (fear)/ boksies wat wegkruip in skaamte (shame).

©      Luister net. Luister wat gesê word sonder om solank te dink wat om te antwoord. Reflekteer deur te sê (en weer te luister): “Ek hoor jy sê…”. As jy dan kan sê (en dit bedoel): “Vertel my meer…”. 4 Jy gaan iets hoor waarvan jy nie bewus was nie. So kan jy jou maat baie beter verstaan en in die vervolg met meer begrip en simpatie optree.

©      Vra vergifnis. Vergewe en vergeet. Moenie oor en oor dieselfde fout maak nie; verander jou gedrag. Kry hulp om te verander as jou gedrag jou maat moedeloos en hartseer maak.

©      Vir die man: Bederf jou vrou onverwags met ‘n mooi bos blomme. Gee haar ‘n lekker druk en sê jy is lief vir haar. Maak vir haar ‘n koppie tee. Luister belangstellend as sy vir jou iets vertel. Gee aandag aan haar drome. Komplimenteer haar; ook voor ander mense.

©      Vir die vrou: Los jou draadwerk. Wees versigtig om emosionele afleidings te maak. As jy met jou man wil praat gee eers tyd dat hy die boksie waarmee hy besig is toemaak. Moenie skimp nie; vra direk. Enkelvoudige (een werkwoord) sinne is die beste. Gee hom onverdeelde aandag. Respekteer hom en gee erkenning aan sy sorgsaamheid. Verstaan sy behoeftes. Maak sy gunsteling gereg en pak ‘n briefie in sy kosblik. Gun hom ‘leë-boksie-tyd’ soos visvang of karring aan stukkende goed.

©      Maak jou oë oop. Sien raak wat jou maat alles vir jou doen en beteken. Waardeer dit en spreek jou waardering uit.
 

“Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou (man).” (Spr 5:18)

 

1,2,4 Van der Merwe, K. http://www.huwelike.co.za/imago-verhoudingsterapie.html

3 Gungor, M. http://www.laughyourway.com/events/2011/06/Cape-Town-South-Africa/

© 2011 

 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.