Donderdag
Vanoggend was Harold gastekunstenaar by uitstek! A2J leer ook ‘n klomp nuwe touspring speletjies en self opgemaakte liedjies by die kinders. Vanmiddag se sport het goed verloop en Estelle en Annette ken nou elke touspring liedjie onder die son! Ons het nie weer tougetrek nie. Dinsdag se toutrek teen die bus het die dik tou gebreek!
Ouetehuis
Marthie en Rachalle doen oefeninge en craftwerk met die ou mense en bid saam. Hulle het ook mense gekry wat die looprame kan gebruik wat ons saamgebring het.
Instandhouding
Die instandhoudingspan is besig om by die gemeentesaal ‘n stukkie dak op te sit sodat hulle kan badkamers toe loop sonder om buite om die saal te loop. Die VGK gemeente het self die ekstra mure gebou om die “gang” na die badkamers te maak. Een of twee van hulle help ook deur die dag.
By Ds. Arian se huis is twee boekrakke ingesit.
Volwasse bediening
Corné. Simoné en Heidie is besig met huis tot huis besoek om van die mense ‘n die gemeenskap te ondersteun. Party is alleen en of sonder werk. Ander se kinders is ver of ken nie die Here nie.
Die een ou oom slaap op ‘n ou bed, maar die matras is net springs en die komberse net fodde. Ons kon kussings en komberse afgee en hoop om ‘n matras te reël.
Van die A2J’ers
Om te sien hoe skape doodgemaak en geslag word, is glad nie cool nie. Daar was tye wat ek gevoel het of my kos stadig maar seker besig is om in my keel op te kruip! Dit was eintlik baie hartseer. As die arme skapies wat in die ry staan om bewusteloos geskok te word maar net weet dat hulle besig is om hulle laaste asem uit te blaas. Ek dink na vandag is ek beslis ‘n vegetariër!! ☺
Maandag se geestelike aand was regtig amazing. Almal praat met lof daarvan. Ek dink dat die Heilige Gees regtig teenwoordig was daardie aand. Almal is aangeraak daardeur.
Ek sien uit daarna om die laaste paar dae van uitreik saam met die amazing A2J’ers te geniet! A2J + God = A mean team. Lief vir julle, Ilze
“Tannie, dis cool. As jy in die kamertjie loer, dan sien jy die skaap se dwerms!” – klein Ben
Tussen-in is daar ook ‘n A2J’er wat tydens terugvoer op klein Michie se skouer aan die slaap geraak het en die “Wolf pack” – die ouer manne – wat in die nag skeerroom spuit. Alles deel van die storie!
So ‘n bietjie ander nuus: so 10 jaar terug was A2J ook hier en is daar vir ‘n dogtertjie krukke gegee sodat sy kon loop. Sy is nou in ‘n rolstoel, maar ons kon vir haar ‘n klomp klere gee.
Voorbidding
Bid saam met ons –
- Dat ons elkeen die Here se stem sal hoor en sal luister.
- Baie dankie vir die verhoudings wat baie beter gaan.
- Vir die gesondheid van die span. Ons is sover baie geseënd.
- Weereens ‘n groot dankie vir die goeie weer. Woensdag was koud met motreën die aand, maar vandag was weer vol sonskyn.
- Dat die uitreik in elkeen ‘n wortel sal laat groei / versterk wat in God geanker is. Spesifiek vir die span, maar ook vir Fraserburg.
- Dat die span kan onderskei tussen pret / poetse en te ver gaan daarmee.
- Vir krag en seën vir die laaste paar dae: môre se laaste lesse en DVD aand, die vroue tee en ook die werk van die verskillende spanne.
Dankie vir julle gebede.
Groete,
Johann Gerber