Van verbruikershemel tot ‘n ware hel

Dis nogal duur, dink ek terwyl ek een optel. (Ek was nog nooit goed met aankope nie.) Maar ek het dit nodig, right?

Ek’s ook nie goed met klein besluite nie, so ek trek my selfoon uit my broeksak en gaan Twitter na vir die nuutste oor Libië. Laas toe ek gekyk het, was Gadaffi besig om op sy land te skiet.

(Katy galm haar note uit. Warm sy ooit op?)

Daar’s bloed in Tripoli se strate. Gadaffi se weermag is besig om bomme te gooi op onskuldige burgers.

Bomme.

Cause baby you’re a firework
Come on show ’em what you’re worth
Make ’em go “Oh, oh, oh!”
As you shoot across the sky-y-y

Fokus. Moet ek die broek koop?

Dalk nog net een vinnige loer na my selfoon.

Wie het al hierdie broeke voor my aanmekaar help naai? Wie’t die olie help pomp wat uiteindelik die vragmotors aangedryf het om die klere tot hier te kry?

Come on let your colors burst
Make ’em go “Oh, oh, oh!”
You’re gunna leave ’em fallin’ down-own-own

Sjarrap, Katy.

Tripoli is rooi.

Gaan ek die broek koop?

Hoe gaan dit deesdae met Egipte?

Is dit wat ‘n mens kry wanneer jy ‘n stryd om beter werksgeleenthede gestry en gewen het? Werksgeleenthede? Sodat jy meer en meer kan koop? Sodat jy na die ontelbare produkte voor jou op die rakke kan kyk en vergeet dat dit dalk ten koste van iemand anders aan die ander kant van die wêreld vervaardig is?

Dalk moet ek nie weer na my selfoon kyk nie.

Dit raak laat. Ek loop by die winkel uit en begeef my in een van die inkopiesentrum se verskeie drukgange vol inkopiegangers. Oral is neonligte en plakkate en meisies sonder defekte. Koop, beveel hulle my, terwyl Katy in my kop maal.

You don’t have to feel like a waste of space
You’re original, cannot be replaced

Jy sal verbruikershemel toe gaan.

Die internet in Libië is af. Telefoonlyne is dood. Die pers sukkel om toegang tot die land te kry en daar’s bloed in die strate.

If you only knew what the future holds
After a hurricane comes a rainbow

Wat gaan Libië en hul olie doen as Gadaffi uiteindelik uitgestamp word? Werksgeleenthede skep? Produkte vervaardig? Produkte koop? Nog produkte koop?

Boom, boom, boom
Even brighter than the moon, moon, moon

Dis aand en skrapnel is besig om onskuldige mense aan flarde te ruk in Libië.

En ek kan nie besluit watter broek ek wil koop nie.

– Johan Swarts is ‘n skrywer en vervaardiger. Hy is ‘n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.