Verdwaalbossie…

Hierdie storie is opgedra aan ‘n goeie vriend van my wat die beste padkaarte ooit teken! So ry ek eendag vol selfvertroue van Pretoria af na ‘n vakansieplek naby Mafikeng. Dit is die reguitste, eenvoudigste pad ooit. Maar toe ek my oë uitvee, is ek in Mafikeng en ek moes nie daar gewees het nie, aldus die padkaart wat langs my lê. Hoe op aarde het dit gebeur! Ek hou stil, tel die kaart op en ry dit oor met my vinger. Oor die brug, verby iets wat soos ‘n visgraat lyk (weet nie wat dit is nie …) nog ‘n entjie en “draai links”! Ek moet darem net noem ek het op daardie stadium saam met Chris Tomlin How Great is our God gesing. Ek is goed met multi-tasking, maar ek ry waar ek sing.

“Ek het verkeerd gery”, sê ek bietjie verleë vir my vriend, want dis regtig ‘n goeie kaart! Uiteindelik kom ek by die vakansieplek aan. Baie trots op myself. Ek ry met die twee-spoor-grondpaadjie na die huis toe. Ek ry en ek ry en ek ry … later word die pad nouer en die bosse digter. Ek besluit toe om om te draai voordat ek nie meer kan omdraai nie. Dit het sopas gereën. Ek hou stil, skakel die motor af, draai die vensters af en luister na die bosgeluide. Toe ruik ek dit … vaalbos!! Ek was omring met vaalbosse wat nog blinknat is na die reën. Ek steek my hand uit en kneus ‘n vaalbosblaartjie en ruik dit diep in! Dit is salig! Dit ruik soos plaas, paradys en ‘n stukkie van God se hemel op aarde.

Ek is so bly ek ly aan verdwaalsindroom. Verdwaal is beslis nie vervelig nie, dit is kosbaar! Om die pad nou en dan byster te raak is darem seker ook nie só ‘n groot sonde nie!

Om die waarheid te sê ek het al die lewenspad ook byster geraak … ‘n paar keer al of dalk meer. Maar gelukkig sê Jesaja: “Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: ’Hier is die regte pad, loop hierlangs’” (Jesaja 30:21 Die Boodskap).

Dit is soos ‘n hemelse satelliet wat my elke keer opspoor en terugbring op die egte pad, die pad terug huis toe. Nee, dis nie NASA nie, sy naam is JESUS CHRISTUS.

“Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie” (Jesaja 40:26). Ek ook nie.

Dankie Jesus, dat U altyd weet waar ek is, al weet ek soms self nie!

Bron:  ekerk.co.za 

NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.