Wat sê God oor die bestaan van die hemel en die hel?

Sê nou hulle het nie die evangelieboodskap gehoor nie? Sal mense ná die dood weer ’n kans kry om die keuse van geloof uit te oefen? Is die hel vir ewig? Of is dit slegs ’n tussentoestand op pad na die hemel?

Die twee skrywers, die een ’n internasionale spreker en skrywer van gewilde boeke en die ander ’n teoloog en kenner van die Nuwe Testament, beantwoord vrae soos: gaan almal hemel toe? Het die hel verander van Bybelse tye? Wat het Jesus regtig oor die hel gesê? Wat het sy volgelinge oor die hel gesê? En wat het dit met my te doen?

Die skrywers doen moeite met die Bybel. Dit is hulle vertrekpunt, waarvoor ’n mens groot waardering het, gegewe dat daar soveel verskillende opinies oor dié onderwerpe bestaan. Daarom raai die skrywers jou aan om hulle boek met ’n gebed te lees: Here, ek wil weer wat waar is. U het belowe dat u Gees ons in die waarheid sal lei. Leer U my sodat ek nie deur mense en hulle opinies verwar word nie. En gee vir my die moed om die waarheid uit te leef, ongeag wat dit kos.

Gaan lees gerus weer Lukas 13:25-28, om een voorbeeld te noem, en dink dan aan mense wie se lotsbestemming deur hulle besluit bepaal word: Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!

Dié mense sal dan huil en op hulle tande kners terwyl hulle sien hoe gelowiges in die heerlikheid van God deel.

Die boekie sluit met antwoorde op sewe vrae wat dikwels gevra word.

Ek beveel die boek aan vir enigiemand wat vrae oor die onderwerp gestel het, en na Bybelse antwoorde soek. Jy is veilig wanneer jy dié boekie lees omdat dit na die Bybelse boodskap luister.

Bron:  ekerkNGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.