Die bekende skrywer Bob Goff vertel ’n vehaal van ’n baie duur skildery wat hy gekoop het. Die “painting” was so duur die kunsgallery noem dit nie ’n “painting” nie, maar ’n “piece”. Ja, dis ’n duursame meesterstuk. Toe hy dit uiteindelik koop, na maande se spaar, gee hulle vir hom twee van die skildery: die ware meesterstuk, enig in sy soort en ’n “fake” een om op te hang. Bob was baie ontsteld oor die feit dat hulle verwag hy moet die oorspronklike meesterstuk toesluit en die vals een ophang vir almal om te sien.
Hy het die oorspronklike meesterstuk opgehang en elke dag daarna gekyk. Dit het hom baie plesier gegee. Daar het eendag ’n rekkie tydens ’n rekkie–geveg met sy kinders die meesterstuk getref en ’n merkie gemaak. Bob was eers ontsteld, maar later ervaar die meesterstuk met die skade/merk is sommer nou nog meer werd vir hom. Uit dit alles leer ons dat God wil hê ons moet ons ware self wys en teen die “muur ophang”. Ja, jy gaan houe vat en jy gaan soms seerkry, maar dit verhoog jou waarde. Soveel mense is vals en leef “fake”. Die lewe word vir soveel ’n toneelspel en soveel leef skynheilig.
Lees gerus Matteus 23 waar Jesus in geen onduidelike taal die Fariseërs aanspreek oor hulle valsheid. Jesus spreek hulle aan as “huigelaars” en “blinde leiers”. Hy is prontuit kwaai met hulle en vermaan hulle omdat hulle so “fake” is.
God het jou ’n meesterstuk gemaak. Hy het jou duur gekoop deur die bloed van Jesus. Hy kom maak jou ’n nuwe mens en gee jou ’n nuwe identiteit. Jy het geen rede vir valsheid of skynheiligheid nie.
Al vat jy so nou en dan houe, wees en wys die ware jy. Dis wat God van jou vra.
Bron: ekerk.org
NGVishoek: Ds. ( dominee ) Martin Barnard.